Die vloek van die farao's verwys na ’n beweerde vloek wat glo enigiemand tref wat die mummie van ’n persoon van Antieke Egipte versteur, veral dié van ’n farao. Die vloek, wat nie ’n onderskeid tref tussen ’n dief en ’n argeoloog nie, kan glo ongeluk, siekte of die dood veroorsaak. Sedert die middel 20ste eeu het baie skrywers en dokumentêre beweer die vloek is "werklik" omdat die oorsake wetenskaplik verklaarbaar sou wees, soos bakterieë of straling. Die moderne oorsprong van sulke vloekverhale is egter hoofsaaklik Europese kulture, waar ’n verskuiwing in die beweerde rede vir die vloeke plaasgevind het van towerkrag na wetenskap, en die gebruik daarvan om aanhangers van grilflieks te vermaak dui daarop dié Egiptiese vloeke is ’n hoofsaaklik kulturele verskynsel en nie ’n wetenskaplike een nie.[1]
Daar is in of op sommige tombes regte vloeke gevind, soos by die mastaba van Chentika Ichechi van die 6de Dinastie van Egipte by Saqqara. Dit lyk of hulle gerig was teen die Ka-priesters sodat hulle die tombe sou beskerm en die rituele reinheid daarvan sou beskerm, eerder as ’n waarskuwing vir moontlike rowers. Daar was van die 19de eeu af verhale van vloeke, maar hulle het toegeneem nadat Howard Carter die tombe van Toetankamen ontdek het. Ondanks wat baie mense glo, is geen vloek in die farao se tombe gevind nie.[2]